‘n Lewe van krag en oorvloed

– Andre Peasley

 

Is jou lewe gevul met krag, vreugde en oorvloed? Daar was eens op ‘n tyd ‘n boer in Amerika wat ‘n klomp kinders moes grootmaak. Die oliemaatskappye wou toetse op sy plaas doen en boor om te sien of daar dalk olie was. Hy het geweier. Sy familie het baie arm groot geword. Die kinders het nie skoene gedra nie, hulle het nie ‘n kar besit nie en daar was skaars genoeg geld om kos op die tafel te sit. Eendag toe al sy kinders al uit die huis was, is hy deur ‘n oliemaatskappy gevra of hulle kon boor en toetse vir olie doen. Uit pure irritasie, en om hulle van sy rug te kry het hy ingestem. Nadat daar vir ‘n halfuur geboor is, het iets ongeloofliks gebeur. Olie het soos ‘n fontein meters in die lug geskiet. Die rykste olieboord in Amerika is daardie dag ontdek. Die boer se naam was mr Jones. Daarvandaan die bekende gesegde “Keeping up with the Jones’ ”.

In die eenvoudige, maar ware verhaal lê daar vir ons ‘n diep waarheid. Mr Jones het sy hele lewe ‘n sukkel bestaan gevoer. Hy het egter toegang gehad tot die rykste skatte en geld wat reg onder hom op die plaas gelê het. As hy net meer oop was daarvoor en daarmee gekonnekteer het, sou dit sy lewenskwaliteit totaal verander het.

Ons as Christene sit ook met ‘n skat binne in ons, die Heilige Gees. Dis nie iemand anders as Jesus en die Vader nie, maar eerder die volle uitdrukking van die karakter van Jesus. Die Heilige Gees wil nie net in ons woon nie maar ook in en deur ons kragtig werk (Hand 1:8). Ons moet egter met Hom konnekteer. Ons moet onsself onderwerp aan Sy bestuur en beheer. Hy wil ons lei, bemoedig en bekragtig. Hy wil ons seën en ander deur ons seën (Johannes 20:21).

“Dieselfde krag wat Jesus uit die dood opgewek het, leef vandag in my en jou!”. Konnekteer met die Heilige Gees, en laat Hy jou lewe verryk!

kategorieë: Blog, Leraarsblog