Ons is 'n gemeente in die ooste van Pretoria, Suid-Afrika. Ons herinner mekaar aan ons liefde vir God en omgee vir mense met die leuse: "Jesus, alles in elkeen". Ons glo in die Bybel, luister na die Heilige Gees, en vertrou deur gebed. Gehoorsaamheid, verhoudings en diensbaarheid is vir ons belangrik. 

Al is ons bly jy besoek ons webblad, wil ons jou graag gesiglangs ontmoet! Kom maak 'n draai by een van die vele gereelde byeenkomste wat by ons gemeente plaasvind. Tussen weeklikse eredienste, omgeegroep byeenkomste, kursusse en kuier geleenthede sal jy verseker 'n plekkie kry!
Eredienste | Doop & huwelike | Raak betrokke

Ons webblad dien as 'n sentrale bron vir verskeie formate van media, wat jou kan help met geestelike groei, om in te skakel of net algemene inligting te kan bekom. Laai ons preke af, of lees enige van ons verskeie publikasies aanlyn. Hier kan jy ook enige belangrike vorms of dokumentasie bykom.

Moreletapark Gemeente se storie sovêr...

In 1985 het Moreletapark Gemeente in die skoolsaal van Constantiapark Laerskool ontstaan. Ds Sarel Visser en sy vrou Estelle, was die eerste predikantspaar. Teen 1987 het dr Henk en Elize Zeeman as tweede predikantspaar aangesluit. Nuwe idees het posgevat, en so het beplanning vir ‘n kerkgebou begin. In 1992 het ds Dirkie en Esther van der Spuy as derde predikantspaar aangesluit.

Die Gemeente was klein en jonk maar het vinnig gegroei. Toe die eerste kerkgebou beplan was, het 750 sitplekke vinnig na te min geklink en is dit verdubbel. Baie mense het gewonder of die kerk ooit sou vol word maar daar was spoedig ‘n probleem van te mín plek en is daar besluit op twee oggenddienste om almal te akkommodeer.

En steeds het die wortels dieper gegroei en die Esegiël  47 visie van waters wat wyer vloei, behoorlik uitgebrei.  In 1998 het die spasie-probleem weer kop uitgesteek en moes planne beraam word om óf die kerkgebou in Rubenstein Rylaan te vergroot, óf ‘n nuwe gebou te bou op nuwe en groter gronde.

Met elke groeifase was daar uitdagings van uiteenlopende aard maar God se genade en grootheid het nog altyd geealiseer. In 2001 is daar weer beraadslaag en is daar besluit om nuwe grond te soek, te koop en te bou. Dié keer sou dit veel groter wees!

In 2003 het gemeentelede , vriende en selfs gereelde besoekers,  daad by die woord gevoeg en d.m.v. finansiële beloftes is daar op nuut verkrygde grond in De Villabois Mareuilrylaan in Moreletapark, begin bou. Elke maand was die finansies voorsien en is die nuwe 7000 sitplek ouditorium amptelik betrek op 23 April 2006 met die eerste erediens.

Ons Gemeente se verhaal  is een van wonderwerke maar meestal tonne genade. Mag jy ook dít hier by ons beleef!

© 2012   Created by MP Admin.

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service