Ware vryheid stel grense

deur Christo Ryan

Ek onthou toe ek op skool was – die vorige eeu – was dit ‘n groot skande as jy gevang is as jy rook. As jy vandag nie rook nie is dit amper die uitsondering. In baie skole (selfs in ouerhuise) is dit die minste van bekommernis. Dwelms is net so maklik bekombaar as wat Coka Cola is. Jy is gelukkig as jou kind net by sigarette bly en nie reeds met dagga of iets sterkers geëksperimenteer het nie.

Wat ek hiermee probeer sê is dat mense in 2015 minder grense het en meer regte het om te doen wat hulle hartsbegeertes is. Die vraag aan myself  is egter: Om te doen wat ek wil, maak dit my werklik vry?

Ek dink nie so nie!

Om werklik vry te wees beteken om binne die reëls te lewe

Kyk so daarna:

Twee persone het elk ‘n plaas, langs mekaar. Maar hierdie plase is redelik oud – daar is nog nie ‘n goeie rioolstelsel nie. Daar is wel “longdrops” en jy weet mos hoe werk ‘n “longdrop”. Daar is ‘n gat onder met ‘n “tank” en as die “tank” vol is dan moet dit leeg.

Op ‘n dag kom persoon 1 agter dat daar ‘n aardige reukie op sy plaas is en nadat hy ondersoek ingestel het besef hy dat die “tank” by die “longdrop” vol is. Onmiddelik gaan haal hy sy “honey-sucker” (die trokie waarmee hy die “tank” leeg maak) en suig al die gemors uit.

Toe hy by sy plaas uitry sien hy dat sy buurman (persoon 2) se plaashek wawyd oop staan. Net daar besef hy dat diesel duur is en dat hy nog so baie goed het om te doen op sy plaas. Hy ry toe by persoon 2 se plaas in. In die hoek maak hy sy trok leeg en ry terug na sy plaas toe. Hy maak seker dat sy plaashek mooi toe is, want hy wil nie met ander se gemors op sy plaas sit nie.

Nou sit persoon 2 met die stink en die gemors, moontlike siektes en vlieë….

Dis presies wat gebeur as ons nie grense in ons lewens het nie. Sonder grense maak ons ons lewens oop vir soveel “seer en siektes”. As ons nie binne reels bly nie dan bind ons onsself en wanneer ons gebind is, is ons nie vry nie.

God gee vir ons riglyne in sy Woord (Die Bybel) waarbinne ons moet lewe, en as ons binne daardie riglyne leef dan sal ons vrede en geluk ervaar.

Dit laat my dink aan Galasiërs 5:1 – “Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie Vryheid en moet julle nie weer onder ‘n slawejuk laat indwing nie”.

Jy sien as ons sonde doen dan is dit letterlik dat ons slawe raak van die sonde en ‘n slaaf is nie vry nie. God het ons geroep om werklik vry te wees. En om dit reg te kry beteken dat ek binne die reëls moet bly wat God vir my gee in sy Woord.

kategorieë: Blog, Leraarsblog