Ons Glo
Wat ons glo & Leierskap
Waarin glo ons
- Een drie-enige God: Vader, Seun en Heilige Gees, heilig en soewerein, die Skepper van alles.
- Die Bybel: God se gesaghebbende Woord, waardeur die Gees vandag nog met ons praat.
- Jesus Christus: ten volle God en ten volle mens, gekruisig, opgestaan en opgevaar. Net deur geloof in Hom word ons gered.
- Die Heilige Gees: Hy lei, troos en rus ons toe met Sy gawes vir ’n lewe van diens.
- Genade alleen: die mens is deur sonde van God vervreemd, maar Christus het die straf gedra. Ons word regverdig deur genade, deur geloof.
- Die evangelie: ons deel die goeie nuus met liefde en nooi mense uit om Jesus te volg.
- Eenheid en sending: ons werk saam met ander gelowiges om die evangelie na almal te bring.
- Geestelike stryd: Christus het die bose reeds oorwin; ons staan sterk met waaksaamheid, waarheid en gebed.
- Doop en nagmaal: twee gawes van Jesus wat ons in Sy verbondsgemeenskap inneem en ons geloof vernuwe.
- Die wederkoms: Jesus kom weer, en ons sien uit na die nuwe hemel en aarde.
Ons verbond: Ons belowe om saam met God en mekaar te bid, te beplan en te werk vir die evangelisasie van die hele wêreld. Amen!
Welkom by Moreleta Kerk
Ons is ’n gemeente wat al amper 40 jaar lank saam kerk hou langs die rivier van die lewe. Ons nalatenskap is ryk, en ons invloed strek met God se genade tot aan die uithoeke van die aarde. Ons is oortuig daarvan dat as jy die Gees van God beleef het, niks ooit weer dieselfde sal wees nie!
Ons gemeente het ’n gereformeerde aanslag en ’n voorliefde vir die evangelie soos Jesus dit uitgeleef het. Ons staan steeds in verwondering oor die krag van God se Woord en die relevansie daarvan vir ons alledaagse lewens. Hierdie woorde van God glo ons is geïnspireer deur die Heilige Gees wat dit lewendig maak in gewone mense se lewens. Jesus sal altyd die middelpunt wees van elke boodskap wat jy by Moreleta Kerk hoor. Dit is slegs wanneer die mens Hom ontmoet en dan in ’n verhouding met Hom staan dat strome lewende water vanuit jou sal begin vloei. Kerk en Christenskap kan maklik ’n godsdienstige oefening word totdat jy ’n ontmoeting met die Heilige Gees gehad het. Ons glo in Sy werking, Sy gawes en Sy openbaring van wie die drie-enige God is.
By Moreleta Kerk is ons ernstig oor ons roeping, veral onder Afrikaanse mense. Ons is opgewonde oor die evangelie, die huwelik en die kerngesin, maar omhels alle mense se gebrokenheid en seer. Ons wil ons naaste liefhê soos onsself en is lief vir die plek waar God ons geplaas het om kerk te wees ten spyte van al die uitdagings.
God is besig om die hele wêreld uiteindelik met Homself te versoen. Hy nooi jou saam op hierdie avontuur. Kom ontdek dit hier waar die stroom van die Gees lewe bring.
Teodor van der Spuy